Wednesday, February 8, 2006

Kringe in my bos

Apologie aan Saul Barnard

“Die lewe is ’n skewe sirkel, pa. Aan die een kant is die houtkopers besig om die houtkappers uit te mergel, terwyl die houtkappers besig is om die Bos uit te mergel…”

Twee jaar het verloop vandat ek Kringe in ’n Bos gelees het as deel van my Matriek Afrikaans. Aanvanklik was die milieu van Kringe, ’n bietjie moeilik om te begryp, maar toe ons redelik gevorder het in die boek begin die sirkel motief wat handel oor die tydlyn waar die verhaal homself afspeel, wél toe val alles in plek soos ’n legkaart.

Tot die een aand toe ons ’n jeugspan vergadering gehad het, het ek nie rêrig gedink dat dié boek sou ’n groot invloed op my lewe hê nie, maar sommige waarhede wat Saul gepraat en gedink, het onverwags tog vasgesteek. Dankie Saul.

Waar ek nou die eerste paar woorde van hiérdié paragraaf nou tik, is ek al reeds vir vyf dae by die huis nadat ek op die 3de Februarie van hierdie jaar my diploma kursus by CTI klaargemaak het. Dit voel nog steeds ’n bietjie onwerklik - een oomblik worry ek myself siek oor die eksamens en skielik is als maar net ’n vae herinnering.

Julle wonder seker waar pas Kringe in ’n Bos nou in. Om mee te begin, juis die feit dat ek klaar geswot is, ’n voltooide sirkel in my lewe. Die voltooide sirkel in my lewe verteenwoordig natuurlik my opvoeding wat ek ontvang vandat ek oud genoeg was om skool toe te gaan, tot die dag toe ek my studies voltooi het. Selfs hierdie sirkel het sekondêre sirkels binne – in homself.(Ja, my sirkel net soos ek is manlik).

My jaar (1991) wat ek in pre-primêr in Fanie Theron gespandeer het kan gesien word as die begin van my laerskool loopbaan. Die opeenvolgende jaar tot die einde van 1997, was ek Paarl Skool gewees, en daarna weer teruggekom Fanie Theron toe vir my graad 6 en 7 jaar. Die Paarl Skool sirkel natuurlik is ook ’n siklus op sy eie.

Toe ek graad 7 aan die einde van 1999 voltooi, op die vooraand van die nuwe millennium, is my laerskool siklus, wat my jare by Paarl Skool insluit, afgesluit en die jaar daarop my Hoërskool sirkel begin! Die nuwe sirkel, soos ek baie gou sal ontdek het eintlik omtrent vir elke jaar sy eie siklus gehad, maar ook vir sekere goed wat ek aangepak het, het ook sy eie siklus gehad.

Die jare het verby gevlieg en toe land ek in Matriek en raai wat, Saul Barnard se biografie word my voorland in die eerste drie maande van my sewe maand siklus van my laaste jaar op skool!

Dis ook in die tweede maand van dié jaar wat ek malkop verlief raak op ’n vriend vir die afgelope twee jaar of so. Die gevoel haar uit te vra, het die sterkste begin klop, so twee dae voor dat Kupido sy pyl en boog span en onverwagte paartjies vang. Toevallig was daar ’n hipnotiseur daardie dag by die skool, maar geen bewys kan gevind word dat hy verantwoordelik is vir enige bonatuurlike intervensie nie.

Miskien was dit die feit dat die matriekraad daardie bestemde aan ballonne opgeblaas het vir die vale en dat ons boonop die rose die volgende dag, saam met die ballonne teen halfprys kan kry. So die volgende dag, so tien minute voordat die klok gelui het, het ek en sy ’n alleen oomblik saam (nie wat julle dink nie ...) en dis waar ek die groot vraag vra( wél altans die tweede grootste vraag wat bestaan).

Ons was toe vir 8 maande saam, toe sy my in die middel van my finale eksamen net los? Goed die hele scenario rondom die feit dat sy my gelos het is nog steeds vaag. Dus sal daar nie in diepte ingegaan daarop nie. Dus het daardie sirkel op ’n seer manier geëindig.

Anyway, so twee maande daarna vind ek uit dat ek my graad 12 jaar geslaag het en dat ek binne volgende twee weke kan begin by CTI. Dus word nie net my hoërskool siklus voltooi nie maar ook my loopbaan op skool Soos ek al reeds gesê het, slaag ek my laaste eksamen op 3 Februarie 2006. En so word daardie siklus ook afgesluit.

Net soos in Kringe, word daar ook terug na die hede en weer na die verlede gespring, so universeel bestaan daar ook ’n tydsiklus in my lewensverhaal.

Toe ek en Madelein uit mekaar uit is, was daar sekere van die goed (onthou julle nog van die scenario van wat ek gepraat het) wat nie heeltemal opgelos was nie. Daar was soos in die meeste romans toue wat nie saamgebind is om die verhaal te voltooi nie.

Ek gaan op 17 Februarie 2006, finaal afsluiting kry oor wat in die verlede gebeur het, en dus word nog ’n siklus so afgesluit. Ek weet dat ek ook eendag kan sê soos Saul aan die einde van Kringe gesê het, “Maska, gaan roep vir Miss Kate...”, met bedoeling dat die regte persoon gaan nog my paadjie kruis, of dat die persoon al reeds my pad gekruis het, maar ek nog met oogklappe opgesit het.