Thursday, March 24, 2005

Om te skryf of nie te skryf … dis die vraag

Dis weird watter paadjies die lewe met jou as persoon loop. Ek staan nou in my twintigste jaar hier op aarde en ek kan sê ... eerder getuig , dis nie jou straight forward plat reguit pad nie. Dis eerder ’n kronkelende pad, vol draaie en steiltes en baie afdraande – nie swyende rustige draaie nie, eerder steil en skerp 45° afdraande – jy sal eers agterkom jy is in die moeilikheid nádat jy in die gat beland het.

Ek weet nie hoekom ek ewe skielik my gevoelens uitdruk op skrif, of eerder elektroniese formaat nie. Dalk is dit net makliker om jou emosies en gevoelens uit te druk wanneer dit in jou agterkop rondbuzz en dat jy voor jou PC inskuif en net insit wat jy op daardie stadium voel en ervaar.

Ja, ek het mense met wie kan gesels as die golwe van my lewe dalk te rof raak om dit alleen te hanteer. Maar dit is nie altyd so maklik om jouself mondelings uit te druk nie. Ek dink ’n ander rede hoekom ek skrywe is dat ek ’n voorliefde vir woorde en taal het en dat ek my mengelmoes van emosies beter só kan uitdruk, as om fisies met iemand te gesels.

Ek het dit al ervaar, dat as ek met ’n persoon gesels, dat die ander persoon ervaar dat ek in raaisels praat, of dat die persoon in die middel van ons gesprek sal vra, “Waarvan praat jy?”

Dit kan dalk ook wees hoe die persoon geestelik, emosioneel en sielkundig ontwikkel is. Tannie Elmarie het op die dag in matriek wat ek my matriekbalkie wou opgee een net wil opgee vir my gesê wat sy sien in my persoonlikheid. Sy het vir my daardie dag gesê dat ek anderste is as die res van die skool is en sy het opgemerk dat ek al op ’n vroeë ouderdom besluit het om nie myself op te hou met die kinderagtige dinge van my ouderdomsgroep nie. En sy was reg.

Nog altyd was ek anders as die res van my vriende in dieselfde ouderdomsgroep. Toe ek nog jonger was – ek dink ek was so tussen 9 of 10 jaar oud, het ek myself verbeel dat ek die besturende direkteur is van een of ander groot rekenaar-maatskappy is en dat ek vir my ’n “rekenaar” uit ’n ou skoenboks gemaak het.

In elk geval die drang om al my gevoelens op skrif uit te druk, kan as gevolg wees vandat ek Rachell Greeff se boek, Spektakels en Mirakels gelees het. Sy was vroeër die skrywer van die Sarie agterblad-stories.

Baie van die kort skyfstukke , kon ek aflei, is van hierdie agterblad-stories. Sy is baie eerlik hoe sy voel en sal gereeld metaforiese voorbeelde gebruik om haar emosies uit te druk.

Ek hoop dat deur hierdie skryfstuk sal julle, as leser daarvan ’n beter understanding hê van wat in hierdie annerste man se kop aangaan.