Saturday, July 12, 2008

Die Onse Vader Gebed

Ons Vader wat in die hemel is
laat U naam geheilig word;
laat U koninkryk kom;
laat U wil ook op die aarde geskied,
net soos in die hemel
gee ons vandag ons daaglikse brood
en vergeef ons oortredings
soos ons die vergewe wat teen ons oortree
en laat ons nie in die versoeking kom nie
maar verlos ons van die Bose

Hierdie bostaande gebed sal dié van julle wat bekend is met die inhoud van die Bybel – die Heilige Geskrif van die Christelike geloof as die “Onse Vader” gebed.

Vandag, op pad na Wayne (My installasie assistent) se huis in Elsiesrivier, dink ek toevallig aan die reël in die gebed, “Gee ons vandag ons daaglikse brood” en ek besef toe by myself dat hiérdié gebed soveel keer deur my en ander mede-gelowiges rympie-agtig geuiter is, sonder nadenking van wat ons sopas gebid het. Dis hoekom ek in hiérdié skryfstuk my interpretasie te gee oor wat ek verstaan met die woorde wat Jesus gebruik het, asook die implikasie daarvan in ons hedendaagse lewe.

“Ons Vader wat in die hemel is”

In die eerste reël word daar word ’n identiteit gekoppel aan die Persoon wat aangespreek word, asook waar die Persoon Hom bevind , naamlik “Ons Vader wat in die hemel is.”

Dit herinner my nogal sterk aan die samestelling van ’n e-pos adres soos tian@broadbandexpress.co.za. Die eerste gedeelte van die e-pos adres voor die aapstert (@ - simbool) identifiseer wie die persoon is wat op die ou end die e-pos gaan ontvang. Die tweede gedeelte van die e-pos adres, na die aapstert (@ - simbool) dui waar die spesifieke persoon hom/haar bevind. In dié adres wat ek as voorbeeld gebruik het, is die aangespreekte deel van ’n Suid Afrikaanse Maatskappy met die naam van Broadband Express (Die .co in ’n e-pos adres, dui teoreties op ’n maatskappy, met die za, wat dui op die ligging van die Maatskappy – za wat natuurlik dui op Zuid Afrika)

Maar terug by die kerngedagte van dié skryfstuk. Soos reeds gesê, help die eerste reël van die gebed wat Jesus sy dissipels leer bid het, ons om te identifiseer wie aangespreek word. Ook wat interessant is in hierdie opsig, is dat Jesus bid “Ons Vader”, wat ’n sterk aanduiding is dat God as die Vader-figuur nie net in verhouding wil wees met Sy Seun nie, maar dat God se hartsverlange is dat ons as gelowiges, as Sy bruid, in verhouding met Hom moet leef.

Dit was nooit God se bedoeling dat ons as sy skepping, van Hom moes geskei gewees het nie, maar deur die mense se keuse om ’n selfgesentreerde lewe te lei, is ons van God se teenwoordigheid verwyder. Ons strewe om te leef vir die “eie-ek”, het verrykende gevolge soos armoede, vreemdeling-haat, vernietiging van God se skepping, asook die skepping van wanhoop by meeste mense.

Nog iets wat opvallend is wanneer ons God aanspreek as ’n vader-figuur, is dat ons karaker-eienskappe van ’n vader in Hom raaksien, soos ons ook in ons aardse pa’s so raaksien. In die eerste instansie word die manlike ouer-figuur – vader, gesien as die oorsprong van toekomstige nageslagte. So was dit ook, Adam, die eerste mens, is uit God se inisiatief geskep, en uit Adam as die volgende patriarg, het sy nageslag ontstaan.

Ook kan gesê word dat ’n vader ook die rol van ’n (nederige) regter moet volstaan. Hy moet na al die belange van sy huishouding omsien en onpartydige, regverdige besluite te kan neem vir die belange van sy huisgesin, voordat hy aan homself aandag gee.

Die benaming “Vader” kan ook gesien word as ’n verwysing na gesagsfiguur soos die hoof van ’n land, wat met die nodige respek en eer aangespreek moet word – iets wat in die volgende gedeelte meer uitgelig gaan word.

“Laat U Naam geheilig word”

Wat beteken dit om iets heilig te maak? Om iets te heilig beteken om iets toe te wy vir ’n spesifieke doel, maar ook respek en aansien te betoon. Dit is wat God van ons vra. Wanneer ons bid “Laat U Naam geheilig word”, bid ons eintlik “mag dit so gebeur dat ons as U skepping onsself daartoe toewy om U met die nodige respek en aansien te eer.”

Met dat ons in die moderne tyd al meer kere gejaagde lewens leef, vergeet ons van die Een, wat ons die nodige krag en daaglikse brood voorsien, en dat ons verplig om Hom die eer te gee wat Hy verdien. In Die Bybel staan daar ons is “vir God en deur God geskep is.”(Kolossense 1:16). Met ander woorde, God het ons gemaak, sodat ons saam met die res van die uitspansel, wat Hy geskep het, Hom as Skepper-God kan eer en verheerlik.

In die voorafgaande paragrawe het ek redelik gefokus wat die woordjie “ heilig “ beteken in al sy vorme, maar dit is ook belangrik om ook na die onderwerp van heiliging van nader te bekyk, naamlik die Vader se Naam.

Wat is in ’n naam? In die tye van die geskiedenis waarteen die gebeure in die Bybel hom afspeel, was die betekenis van die naam wat die kind by geboorte gekry het, ’n sterk weerspieëling van hoe die kind gaan uitdraai as volwassene. Baie kinders van daardie tyd het juis, as hulle geweet het wat hulle naam beteken, so hul lewens geleef. Jabes was amper een van hulle. (Sy naam beteken “Hy is in smart in die lewe gebring”)

Voor Jesus se geboorte, het die hemelse boodskapper aan Josef verskyn, en aan hom gesê dat die Seun wat Maria verwag, Immanuël genoem moet word, want Hy gaan God met ons wees. (Die el aan die einde van Immanuël dui daarop, want in Hebreeus van daardie tyd het dit altyd deel gevorm van die name wat die verbondsvolk gebruik het om hul Skepper-God, אלהים (uitgespreek el – o –heem ).) En Jesus het met Sy lewe hier op aarde die verpersoonliking van dié naam – Immanuël, uitgeleef. Jesus was volkome mens gewees, maar was ook volkome God.

Selfs tot in hierdie tyd, waarin ons leef, word daar nog steeds waarde aan jou naam gekoppel. Aan ’n naam is ook ’n reputasie gekoppel, en daardeur kry ’n individu identiteit. Deurdat God verskillende name vir aanspreking het – name wat ons moet heilig – gerespekteerde toewyding moet gee, is dit moontlik dat ons God se Goddelike karakter, deur Jesus Christus, kan verstaan, en deurdat ons God beter verstaan, kan ons ook nou Sy wil hier op aarde leer, maar ook doen.

“Laat U koninkryk kom”

Wanneer ons hierdie woorde, “Laat U Koninkryk kom” bid, erken en bely ons dat ons Hemelse Vader, Koning is.

Ons moet ook in gedagte hou, soos ’n aarde koning in verhouding met sy onderdane staan, moet ons, as deel van God se skepping, ook in ’n een - tot - een verhouding met Hom staan. Ek dink diep binne-in onsself, al van ons eerste dag hier op aarde, het ons as mens die hunkering om in die nabyheid van sy Skepper te lewe, net soos die oergeslagte van ter vore. En Jesus, deur Sy kruisdood, maak hierdie Skepper- skepsel verhouding moontlik, deurdat hy in die midde getree het as tussenganger.

Die tydperk waarin ons onsself nou bevind, net na Pinkster tot en met die Adventstyd, volgens die Kerklike kalender, staan bekend as die Koninkryktyd. In hierdie tydperk word nie net op daarop gefokus op die vestiging van God se koninkryk hier op aarde nie, maar daar word ook op verskillende vlakke gefokus op die verhoudinge waarin ons as Christene binne én buite die liggaam van Christus (die kerk), staan.

“Laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemele”

Die bogenoemde reël uit die “Onse Vader”- gebed sluit direk aan, by wat ek oor die vorige gedeelte, “Laat U Koninkryk kom”, gesê het. Iets was al reeds in God se hemel - woning plaasgevind het, is bestem, om ook op die aarde te gebeur.

Maar een faktor bied daarteen weerstand. Die mens. God het ons ook ons eie wil gegee – die vryheid om keuses te maak. Dit was nooit God se plan om ’n spul robotte te skep, toe hy die mens geskep het nie. Hy het juis die mens geseën met die gawe om keuses uit te oefen.

Maar ongelukkig, met die sondeval, is die mens nie net van God geskei nie, maar dit was ook die beginpunt van gereelde botsings tussen hulle wil en God se wil vir hulle.

Die mens se wil word gekenmerk deur die volgende houding gekenmerk:
“Elke man vir homself, en te hel met die res.”
“Alles in hierdie lewe gaan net oor my!”
“Alles moet gebeur soos ek dit wil hê”
”Ek is die main peanut in die pakkie”,
“God het mý geroep om die wêreld te suiwer van ongewenste elemente.’ ”

Die ironie is, as ’n mens na die wil van die “eie-ek” kyk, is dit in direkte konflik met God se wil. Ek wonder, of u die leser, die verwysing na Hitler, in die laaste reël van die vorige paragraaf herken het (of was dit nou Verwoerd, Botha of selfs Mugabe?)

God se wil soos reeds genoem, is heeltemal ’n teenpool van ons eie wil. Die hartklop van God se wil, die kern tot God se wil is die liefde, want soos die Bybel genoegsaam sê dat God is liefde. Dus is daar ’n afwesigheid van selfsug, haat, afguns en, wél, alles wat ander mense rondom ons seermaak, in God se wil.

Sedert die sondeval, was God konstant besig om deur mense, sy wil en koninkryk hier op aarde te hervestig. Die kruis sou die element wees wat God en die mens weer nader aanmekaar sou bring, sodat ons as mens ’n beter begrip kan hê van wat God se wil is vir ons lewens en vir die voortbestaan van Sy skepping, veral met die drastiese veranderinge in die klimaat, weerkundig gesproke, maar ook sosiaal en ekonomies.

Een persoon in die geskiedenis van die mensdom, wat ongelukkig nie meer met ons is nie, maar duidelik genoeg verstaan het wat die wil van God was in die tydgleuf wat hy geleef het, is William Wilberforce

Hy was die dryfveer agter die wetgewing wat slawehandel in die ganse Britse ryk sou afskaf, asook die vrystelling van slawe. Op ’n dag, het Wilbeforce met sy beste vriend(wat later die Britse eerste minister sou word) gedeel, dat hy met ’n wroeging in sy hart sit :Om ’n verskil te maak, of om God se wil te doen. Sy vriend se raad, “Doen albei”

Dit is wat so wonderlik is...God se wil vir ons is om te besef ons is Sy kroonskepping en ons is geskep deur Hom, vir Hom. Reeds van die begin af, was dit Sy bedoeling dat Sy hele skepping hom moet verheerlik, nie net die hemelwesens om Sy troon, wat hom heeldag lofgesange en aanbidding toesing nie, maar alles wat Hy hier op aarde is geskep, is gemaak slegs vir daardie doel alleen. Kolossense 1:16 sê die volgende “Alle dinge is deur Hom en tot Hom Geskape.” (Ou Vertaling)

Jesus Christus, in Sy persoon, maak dit weer moontlik dat die skeiding tussen God (die hemel) en ons (die aarde), volkome oorbrug word, sodat God se wil en koninkryk ook op die aarde kan geskied, soos dit in die hemele is.

“Gee ons vandag ons daaglikse brood”

So twee weke terug(relatief gesproke toe ek besig was om hierdie paragraaf te skryf in my aanvanklike notas tot hierdie skryfstuk), het ek met Tannie Elmarie(ons gemeente se hoof-leraar se vrou), juis gesels oor die implikasie van die woorde “Gee ons vandag ons daaglikse brood.” Soos ek aanvanklik besef het, en so het ek Tannie Elmarie meegedeel,is dat eerstens wil die gedeelte vir ons sê, eerder herinner dat ons afhanklik is van God om ons van ons daaglikse brood te verskaf. My indrukke toe ek kleiner was, was dat God ons letterlik sal voorsien van brood, soos Hy gemaak het met die volk in die woestyn, maar daar is ’n definitiewe figuurlike aspek daaraan verbonde.

Figuurlik gesproke is dit ’n direkte verwysing na God wat voorsien in ons daaglikse behoeftes en dat ’n pleidooi en erkentenis van ons kant af is, dat ons God nodig het as deel van ons lewenswandel en dat ons afhanlik is van Sy genade alleen.

Met Jesus se leringe, wat beter bekend staan as die bergrede of die Bergpredikasie, sê-vra Jesus vir die skare, dat hoeveel ter meer sal God vir die mens nie sorg, om dat die mens meer as twee mossies werd is in God se oë, en selfs vir daardie twee mossies sorg God voor in Sy almag. (Matteus 10:29-31)

Later het Jesus vir dié wat hom in daardie stadium gevolg het geleer, dat die mens al sy bekommernisse op Hom moet werp(Matteus 11:28), want ons sal nie ’n dag bekom as ons onsself bekommer oor die dag van môre nie. (Matteus 6:28 – 34)

Geloof speel hier ’n belangrike rol, want jy het nodig om God blindelings te vertrou in Sy voorsiening. Dit is vir ons moeilik as mens om dié tree van geloof te vat, want ons is gemaklik met alles wat sigbaar en meetbaar is, ten opsigte van voorsiening van ons daaglikse brood. Hoeveel groter is die beloning nie, as ons net bloot in alle aspekte van ons lewens in afhanklikheid van God lewe. Dan sal ons werklik verstaan waaroor God se wil en koninkryk handel.

“En vergeef ons oortredinge, net soos ons die vergewe wat teen ons oortree.”

Oor vergifnis kan ’n mens ’n hele boek skryf (aanloklik), en ja, daar is toevallig alreeds ook al ’n Boek daaroor geskryf(en ook die liefde, wyshede, lofgesange, die skepping ... )

Op ’n onlangse kamp waarop ek was, het die spreker in een van sy sessies die vraag aangeraak wat nodig is in ’n verhouding en dinge wat nie behoort te wees in ’n verhouding nie. In die groepe was deugde soos liefde,vreedsaamheid,wedersydse respek,geduld en vertroue genoem, maar in die afwesigheid van deugde soos dié bogenoemde, kan ’n verhouding skeefloop. Die spreker het verder gegaan en die kerngedagte wat die spreker wou oorbring tot ons almal, was dat “vergifnis is die gom wat enige verhouding saambind.”

Om te vergewe beteken nie net om jou oortreding teenoor ’n ander persoon te bely nie, maar ook dat wat vergifnis geverg het, heeltemal vergete moet bly en nooit weer opgegrawe word nie. Met ander woorde, wees Jesus vir daardie persoon.

Jesus se voorbeeld van hoe Hy vergifnis hanteer word duidelik beklemtoon aan die woorde van Psalm 103:

“Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde. Hy sal ons ons sonde nie bly toereken nie en nie verewig toornig (kwaad) bly nie” (vers 8 en 9)
“So ver as wat die ooste van die weste af is, so verwyder Hy ons oortredings vanaf ons af” (Vers 12)

Nou die interessante ding oor vers twaalf is dat in die tydperk toe hierdie Psalm geskryf is, het die mensdom nog die denkwyse gehad dat die aarde plat is en dat as ’n mens te ver oor die rant sou gaan, dat jy sou afval – dus het hulle tot die slotsom gekom dat God die sondes van ons af wegvat so ver die westelike rant van die aarde vanaf die oostelike rant van die aarde af is.

Die teorie dat die aarde plat is, was tog nie so waterdig nie. In die tyd van die Renaissance het astronome en wetenskaplikes(en kunstenaars), soos Galileo, Kepler, Copernicus, Da Vinci, bepaal dat die aarde ’n sfeer is, wat effens afgeplat is by die pole. (en baie van hulle moes hul teorie ontken voor die kommissies en hofsake wat deur die Roomse Kerk, of wel as ketters uitgejou word en die nodige straf ontvang – gewoonlik baie menslik (brandstapels,tronkstraf ensovoorts), want God se kerk maak mos nie seer nie(?!))

Om weer terug te kom by vers 12 van Psalm 103. As ’n mens dus dié vers sou plaas in die konteks dat die aarde rond is(fisies bewys deur die ruimte - reise van die twintigste eeu), dan is dit onmoontlik om die ware verste moontlike punte van oos en wes te bepaal,(ons het lyne oor die aarde begin trek, maar dis maar ook net denkbeeldig) dan kom dit daarop neer dat God se vergifnis en genade soveel groter is as wat ons ooit onsself kan indink.

Om terug te kom by “vergewe ons soos ons dié vergewe wat teen ons oortree.” My eerste indruk as ek die bogenoemde aanhaling lees, is dat God ons sal vergewe soos ons ander vergewe. Vrymaking maak deel uit van die proses van vergifnis. Dus die manier hoe ons ander deur vergifnis vrymaak, sal God ook vrymaking in ons eie lewens bewerkstellig, om ons volkome te bevry van die kettings (skuldgevoelens, ensovoorts) wat ons weerhou om te lewe soos wat God ons bestem het om te lewe.

“Laat ons nie in die versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose”

Ek gaan hierdie gedeelte, wat in meeste manuskripte as die afsluiting van die “Onse Vader” gesien word,in twee gedeeltes deel, naamlik “Laat ons nie in die versoeking kom nie...” en “...maar verlos ons van die Bose.”.

As ’n mens die na gedeelte “Laat ons nie in die versoeking kom nie” van nader bekyk, herinner dit mens sterk aan die gedeelte in Jabes se gebed(1 Kronieke 4:10), naamlik “Weerhou hou my van die Bose.” Plaas ’n mens die twee gebede parallel aan mekaar, is daar nog gedagtes wat redelik met mekaar ooreenstem. Byvoorbeeld, in Jabes se gebed, spreek Jabes die volgende woorde: “Vergroot my grondgebied.” Dis amper soos die versoek, “laat U wil geskied”.

Laat ek verduidelik: As gevolg van God se wil wat in albei gebedsversoeke geskied ten opsigte van uitbreiding van grondgebied (die “Onse Vader” se “Laat U Koninkryk kom” en “Vergroot my grondgebied” van Jabes se gebed), kom dit in direkte konflik met die grondgebied wat die duiwel vir homself opgeëis het, na die sondeval. Sodra ons(en God) meer en meer in die duiwel se plekke van houvas binnedring en meer en meer kettings gebreek word, deur Jesus se bloed, hoe meer probeer die slang van ouds dit teenstaan.

Dus die rede vir die woorde “neem my onder U beskerm” (Jabes se gebed) en “En laat ons nie in die versoeking kom nie.” (Die “Onse Vader” – gebed), is ’n versoek van ons af aan God om ons te versterk teen enige vorm van aanvalle van die duiwel se kant af, sodat die duiwel nie ’n houvas in ons lewens kan verkry nie.

“Maar verlos ons van die Bose.” Die versoek is eerder ’n pleidooi van die kinders van God, dat as dit God se wil behaag, dat Hy hulle uit die wurggreep van die bose se magte en heerskappy oor hul lewens sal gryp. God se wil behaag dit wel, en gouer as wat die volgelinge van Jesus kon begryp...

In minder as drie jaar, nadat Jesus Sy volgelinge hierdie woorde leer bid het, hang Hy aan ’n kruis, en uiter ’n versoek aan Sy Vader in die Hemel, ’n pleidooi van vergifnis. Hy spreek die woorde “Vader vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie “ en dit vir ons elkeen se siel. Einde ten laaste, voordat Hy Sy laaste asem uitblaas, voltrek Hy die verlossingsplan van God met die woorde, “Dit is Volbring.”

God verhoor elke woord wat Jesus op daardie dag gespreek het en daar kom toe volkome verlossing vir die wêreld van die een wat hulle Satan of die duiwel noem. Op Golgotá word die beslissende prys van vrymaking van die hele mensdom betaal – vanuit die eeue oue verlede tot die voleinding van die wêreld. Die mens word op daardie oomblik volkome vry van sy sonde-kettings.

Mag ons, met Christus se wederkoms, saam met skare engele om Sy troon saam die volgende woorde besing:

“ Want aan U behoort die Koninkryk, die Krag en die Heerlikheid, tot in Ewigheid. Amen ”