Wednesday, September 30, 2009

Vergifnis

“When you forgive someone, the knots are untied, and the past is released”
Reshad Field

Hiédié woorde, wat my so ‘n maand terug op ‘n bruinsuiker-pakkie (om meer spesifiek te wees, my gunsteling koffiewinkel in Cape Gate inkopie-sentrum), begroet het, sou dien as die middelpunt waar om alles draai in hiérdié skryfstuk.

Ek het iewers in verlede jaar (2008), ‘n skryfstuk oor die “Onse Vader” gebed geskryf, en as ek reg onthou, het ek al reeds toe vlugtig genoem, dat ek ‘n skryfstuk oor vergifnis sou wou skryf.

Die tyd om dit te doen, is nou die regte tyd in my lewe. Ek het tot die besef gekom dat miskien is dit dalk goed om oor vergifnis te skryf, want om eerlik te wees, vergifnis is nie vir my maklik nie. Ek sal ander maklik kan vergewe, maar ek sukkel om soms myself te vergewe.

Ek sukkel om spesifiek om myself te vergewe oor dinge wat nie eens nodig is om aan te bly hang nie, maar dan word dit deur myself en ander faktore gemuteer in ‘n aaklige gedrog, wat daarna uit is om my te jag en te verslind.

Die mens het een só ‘n gedrog die naam gegee en dit is skuldgevoelens. Sielkundiges en ander kenners van die menslike psige, sal vir jou kan sê, dat dié gedrog, as dit nie “beheer” word nie, dit elke druppel lewe binne-in jouself wil uitdruk en jou net daar sou los om te verdor.>

Elke druppel lewe uit ‘n mens uitdruk en hom daar los om te verdor?

Noem my naief, maar so vêr my kennis en insig strek, is daar net een manifestasie wie of wat daarna uit is om dit aan die mensekind te wil doen. Hy kom net om alles – absolute alles te vat waarop sy hande … sy kloue kan inslaan, die mensekind se besittings, reputasie en selfs sy lewe[1].

Ja, geagte lesers, dit wil vir my voorkom asof satan, die slang van ouds, nóg steeds daarna uit is om ons lewens op elke manier moontlik te ruïneer, insluitende dat hy die menslike psige so wil manupileer, soveel so dat ons binne-in slyk en modder vasgevang is, met geen uitkomkans nie. Hy wil ten graagste hê dat daardie wurggreep van die kettings waarmee hy ons neergebind het, van so ‘n aard is, dat daar menslike gesproke geen uitkomkans is nie.

Só ‘n lewe het God nooit vir enige van Sy skepsels in gedagte gehad nie, inteendeel Hy wil vir ons ‘n oorvloedige lewe gee[2]- ‘n lewe sonder kettings! Jesus hét die kettings laat afval, en terselfdetyd ons vergewe het.

As ‘n mens Jesus Christus se naam noem, wat is die heel eerste ding wat in jou gedagte opkom? Is dit dalk Josef, Maria en die Kind in die krip, of is dit die wondertekens wat blindes laat sien het, dowes laat hoor het nie en verlorenes laat bekeer het?

Ek sou sê, die antwoord op dié bostaande vraag is die Kruis.

Deur die kruis het daar vir ons verlossing gekom, toe ons nog sondaars was. Ja, dieselfde straf wat rowers en moordenaars en ander kriminele van daardie tyd in die Romeinse ryk moes dra vir hul oortredinge, het Jesus wat sonder sonde was ook onder gelei- die oortredinge wat Hy moes dra was nie syne nie, dit was myne, joune, ons almal s’n.

En die beste van als, ons het absoluut niks gedoen om dit (verlossing van ons sondes – vergifnis) te bewerkstellig nie, maar God het.

Dít my vriend is genade: Om te besef dat God gedoen het wat niemand anders kon doen nie, maar ook dat ons niks van ons kant af enigsins enigiets kan doen om dit te verdien nie. Inteendeel dit is ‘n geskenk wat ons onverdiend kry.

Omdat God ons vergewe het , van alles wat ons teen Sy wil gedoen het, en nie eens meer daaraan dink nie, hoeveel te meer kan ons nie sovêr gaan om onsself te vergewe – te laat gaan van die onnodige bagasie nie.

Dit is nie baie maklik nie. Ek sukkel om myself te vergewe en vry te spreek van dinge in my lewe wat ek so onodig saamsleep, welwetende dat Jesus al my bagasie tot by die Kruis gesleep het – en dáár laat staan het.

So mag jy besef dat Jesus nóg voordat jy vergifnis gesoek het, dit lankal reeds vir jou gegee hét, sonder enige voorwaardes.

Mag jy aan ander ook hiérdié onvoorwaardelike genade geskenk gee van vergifnis sonder om enigiets in ruil daarvoor te ontvang.

Mag jy ‘n lewe hê sonder perke, want God het lank-reeds die lewens-smorende kettings laat verbrokkel en jou verregverdig in Sy Seun, Jesus Christus.

En mag jy ware Shalom in jou lewe ervaar, want net soos God jou nie meer veroordeel nie, hoef jy nie meer jouself te veroordeel en in onvergifnis teenoor jouself te lewe nie.
____________
[1] Joh 10:10a
[2] Joh 10:10b