Wednesday, July 1, 2009

Tot die dood ons skei

Daar is ’n Engelse stelling wat lui “There are only two certain things in life- death and taxes”

Is dit nie ironies dat in die bostaande stelling wat handel oor sekerhede in ons lewenswandel hier op aarde, ook noem van die dood nie.

My gevoel is dat terwyl jy nog redelik jonk is, so terwyl jy nog skoolgaande is, dan pla dinge soos die dood jou nie eintlik nie, dis dalk net iets wat saam met die “hoë” ouderdom kom, “so ek gaan my nie veel daaroor verknies nie. Boonop het ek ’n Biologie-taak wat moet klaarkom wat handel oor mitose en die invloed van dié proses op nuwe lewe.”

Maar dan tref dit jou in jou vroeë twintigs (miskien kry die mens tog éérs sy verstand rondom sy een-en-twintigste lewensjaar)…dis nie net ou mense wat doodgaan as gevolg ouderdom nie. Daar is soveel ander omgewings-impakte wie mense rondom jou se draadjies te gou knip.

Ek het alreeds verlede jaar met Oupa Hein se skielike afsterwe ’n Engelse skryfstuk geskryf oor hoe om die afsterwe van iemand naby aan jou, te hanteer, wat ek op my webjoernaal (Blog) en Facebook se notas gepubliseer het en van plan was om ’n vertaling van hierdie skryfstuk in Afrikaans te doen. (vir my lojale Afrikaanssprekende lesers).

Ek het daarteen besluit om die skryfstuk te vertaal(dit verloor dalk sy trefkrag en konteks), maar tog besluit om opnuut oor hierdie onderwerp te besin en ’n nuwe skryfstuk hieroor te skrywe.

My ervaring met die dood is redelik beperk – gelukkig het dit nie baie gebeur dat ek die dood in die gesig moes staar nie, terwyl ’n alter –ego van my die mentaliteit het van ’n hoërskoolleerling, soos genoem in paragraaf drie. En dit is dat net ou mense gaan dood.(lees asseblief my uniek humorsin hierin)

Tot my skok verlede jaar Julie, toe Meneer le Roux, wat vir my skool gegee het ’n paar jaar terug(kan julle dit glo dit is vyf jaar sedert ek by MP se hekke uitgestap het), se vrou skielik aan kanker oorlede is. Sy was dan so jonk. Ek het die begrafnisdiens bygewoon met die aanvanklike motief in my kop om vir Meneer le Roux, ’n vorm van morele ondersteuning te gee, maar in retrospektief, voel ek dat die Here my begin emosioneel skuur en skaaf het, vir die afsterwe van Oupa Hein.

Omtrent dieselfde tyd, met Meneer le Roux se vrou se afsterwe, het oupa Hein en ouma Emmie kom besoek aflê by hul kinders en kleinkinders, wat in die Kaap woon.

Ek wil net op hierdie noot sê dat Oupa Hein en Ouma Emmie nie my biologiese grootouers is nie;Oupa Hein en Ouma Emmie het wél ’n vriendskapsband met my en my ma gesmee, miskien omdat ons so gereeld agter hulle (of voor hulle) in die kerk gesit het…. ek sal nooit rêrig weet hoekom nie.

Een ding wat my altyd sal bybly van Oupa Hein(behalwe dat ek ontdek het waarvan die Götze-humorsin sy oorsprong het, en dat dit oordraagbaar is na die volgende geslag en sommer uitgedeel word aan aangetroudes ook), is dat hy altyd my sou voorstel aan ander mense as sy “seun”(gelukkig is sy oudste seun nie die jaloerse tipe nie, en sover ek kennis dra geen probleem daarmee gehad nie).

Dit is nodeloos om te sê, maar ek het rêrig begin liefword vir die oom met sy Citroën,wat lyk asof dit enige oomblik na die maan toe kan vertrek en sy klein,fyn vroutjie.

Oupa Hein raak toe skielik ernstig siek en word opgeneem vir verder mediese diagnostiese toetse. Die skoknuus: Sy hele liggaam is deurtrek van die kanker en die dokters is nie baie optimisties oor sy toekoms nie. (miskien stel ek dit te sag)

Na ’n baie kort siekbed is Oupa op 25 September 2008 oorlede. Ek was sprakeloos, met die eerste hoor van die nuus. Die emosie van hartseer het my eers rêrig getref met die “dankie-sê” diens op die 3de Oktober. Gedurende die diens kon ek net-net die knop in my keel wegsluk en my emosies onder beheer hou.

Dit was heeltemal ’n ander storie, toe ek vir tannie Elmarie ’n bemoedigende drukkie, na die diens gegee het. Al die emosies het soos ’n damwal meegegee en vloede tot gevolg gehad.Nooit voorheen het ek so broos gevoel soos op daardie stadium nie.

Tog kan ek sê dat dit goed was vir my menswees goed om dit te ervaar, want die realiteit is dat ongelukkig is ons aardse lewens tydelik van aard en een of ander tyd sal ek dieselfde situasie teëkom en moet hanteer.

Dit was moeilik en seer om afskeid te neem van ’n persoon wat so diep in jou hart gekruip het in so ’n kort tydperk. Die leemte wat daar gelaat is, kan volgens jou deur geen ander persoon gevul word, behalwe daardie persoon gevul word nie, veral as jy die persoon begin liefkry het.

Elke keer as ek aan Oupa Hein dink, grinnik ek by myself, want in my gedagtes dink ek terug aan die tye toe hy “skelm” agter die kerktoring, voor die kerkdiens sou rook, en sy sigaret ongesiens laat verdwyn, veral as sy oudste seun in die omtrek is.

Die rouproses

Sommige mense sou sê dat om so gou moontlik terug te keer na jou normale daaglikse roetine, sal die verlange na die afgestorwe persoon laat en die hartseer wat jy ervaar het vinniger laat wegkwyn.

Ekself wil verskil van hierdie bostaande vorm van “cope”, juis omdat ek besef dat mense óf introverte is óf ekstroverte is en elkeen enige vorm van emosionele uitdrukking verskillend sou uitdruk.

In my opinie, dink ek die rouproses moet tydsgewys net soos die proses van vergifnis(of self-vergifnis hanteer word. Dit is nie sommer ’n proses wat jy oor en verby kry nie, en die tyd wat dit sal neem om te rou en afsluiting in jou lewe te kry, wissel van persoon tot persoon.

In die Joodse kultuur(en dit is tot vandag toe ook so), is daar die rou-tydperk genaamd Shivah (uitgespreek Shi-vah) wat vir sewe(Die Joodse woord vir “sewe” is “Shivah) dae lank aanhou,spesifiek wanneer ’n gesinslid van ’n kerngesin afsterwe, dit wil sê vader,moeder, seun,dogter, broer, suster of lewensmaat(Ook in totaal sewe).

Tydens ’n Shivah word die normale kultuur-rituele nie gevolg nie, behalwe tydens feesdae(uitsluitend Sabat dae wat nie op so ’n feesdag val nie), en word die shivah ook ’n sittende shivah genoem.

Dié bostaande ritueel, volgens die beperkte hoeveelheid beskikbare historiese informasie, kan selfs in die Bybel nagespeur word, en is veral sigbaar in die Nuwe-testamentiese oorvertelling van Lasarus wat uit die dood uit opgewek is deur Jesus (Johannes 11).

Teen die tyd dat Jesus en sy volgelinge in Betanië aangekom was Lasarus se liggaam al reeds vier dae in die graf gewees (Volgens Johannes 11:39) en dus die vierde dag van Shivah.

Nog ’n aanduiding dat die Shivah nog aan die gang is, word bevestig deur die woorde van vers 19 wat so lees: “en baie van die Jode het na Marta en Maria toe gekom om hulle oor hul broer te troos”. Die gebruik wat tydens die Shivah periode plaasvind deur nie-familielede en vriende wat die familie in rou besoek, staan bekend as Nichum Aveilim. Die familie waarby besoek afgelê word, word met die volgende seënwoorde begroet : Ha-Malom y’nachem et’khem b’tokh sh’ar avelei Tziyon Viyrushalayim , wat vertaal kan word as “Mag die Alomteenwoordige jou vertroos saam met die ander roubeklaers van Sion en Jerusalem.”

Die besoekers aan die huisgesin sal nie ’n gesprek aan die gang sit nie, maar sal net begin praat, as die gesinslid in rou wil praat. Dit word gesien as ’n vorm van respek, maar dit kan ook as deel van vertroosting gesien word… deur daar saam getreur en getroos kan word.

Dit bring my tot by die kortste vers in die Bybel, naamlik “En Jesus het gehuil”. Baie van die Bybel-kommentatore en ander teoloë, is van mening dat Jesus op daardie stadium nie net gerou het oor die deur prys wat die mens moet betaal vir hul erfsondes nie, maar eerder dat Jesus ’n vriend aan die dood afgestaan, by wie Hy net ’n mens kon wees.

Baie mense sien net die Goddelikheid van Jesus raak- daar is niks verkeerd daarmee nie, maar vergeet soms dat Jesus terselfdertyd ook ten volle mens was. Jesus, het soos enige mens gehunker om ’n diep, intieme vriendskap met ’n groep mense te hê by wie hy net homself kan wees, waar Hy net kon uitspan na ’n lang dag van mense die Waarheid leer kon rustig word en dalk net kon ontspan.

Lasarus was vir Jesus so ’n persoon gewees: Jesus kon teenoor hom oopmaak en laat gaan, as die dag se dinge net te veel vir Hom geword het, of selfs net ’n persoon saam met wie Jesus kon lag en waarvoor Jesus selfs voor ’n streep kon trek.

Ek dink die rede hoekom Jesus se “gemoed volgeskiet het”(die Ou Vertaling praat daarvan dat Hy “bewoë geraak het”, is dat die regverdigheid wat God moes meebring as gevolg van die mens se keuse om te sondig, maak nie net mense seer deurdat hulle verewig van hulle geliefdes geskei gaan word deur die rivier van die dood nie, maar ook dat God wou dit nooit so hê nie, God het ’n beter plan vir die mens- En Jesus besef dat Hy die hoofrol gaan speel daarin, en dat Hy net ’n paar weke daarna self Sy lewe sou opgee, nie om in alle Ewigheid dood te bly nie, maar juis die dood te oorwin en die houvas van die sonde op mens te breek, sodat die mens verewig saam met Hom sal wees, al sterf hulle ook.

Jesus openbaar alreeds toe Hy vir Lasarus uit die dood opgewek het, dat al die mag aan Hom gegee is hier op aarde en in die hemel , deur Sy Vader in die hemel. Hy bevestig ook sy woorde aan Marta : “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie.” (Johannes 11:25-26)

Die bostaande woorde wat Jesus gespreek het, gee vir my die hoop en versekering dat ek weer vir Oupa Hein gaan sien eendag wanneer ek huis toe gaan om met God te wees. Ek het so ’n vermoede dat hy my van agter af gaan bekruip en tweede in lyn gaan wees om my in die Hemel te verwelkom. Terselfdertyd sal hy seker by Jesus spog, dat ek sy “seun” is.

Ek wil hierdie skryfstuk graag afsluit met die seënwoorde van Rob Bell, bekende prediker van die Nooma (uitgespreek Knee-Ma) DVD-reeks, waarmee hy die DVD, Matthew ,afsluit (Die spesifieke DVD handel juis oor die rouproses, en het gedeeltelik gedien as agtergrond vir hierdie skryfstuk.)

“Mag jy besef dat Jesus ook gehuil het
Mag jy tot insigte kom, dat die emosies wat jy ervaar, dat dit oukei is.
Mag jy die keuse maak om nie jouself af te sny van ander mense en verbitter te raak nie, maar oop sal wees vir ander se omgee.
Mag jy besef dat God deel is van jou “sittende shivah”,dat Hy altyd teenwoordig is en dat Hy saam met jou rou, maar ook terselfdertyd jou seer te genees
Mag ons daarin hoop vind.”

No comments: